Sava | |
---|---|
Die Sava in Belgrado, Serwië. | |
Die stroomgebied van die Sava. | |
Oorsprong | Samevloeiing van Sava Bohinjka en Sava Dolinka naby Radovljica, Slowenië Alpe |
Monding | Belgrado, Serwië Donau |
Stroomgebied | Slowenië, Kroasië, Bosnië en Herzegowina, Serwië |
Lengte | 990 km (620 myl)[1] |
Oorspronghoogte | 833 m (2 733 voet) |
Mondinghoogte | 68 m (223 voet) |
Gemiddelde afloop | 1 609 m³/s (56 800 vt/s³) |
Stroomgebiedopp. | 97 713,2 km² (37 727,3 myl²)[1] |
Kaart van die Sava-bekken in Europa.
|
Die Sava (Sloweens: [ˈsàːʋa]; Serwo-Kroaties: [sǎːʋa]; Serwiese Cyrillies: Сава) is 'n groot oos-vloeiende rivier in suidelike Sentraal-Europa. Die rivier, met 'n lengte van 990 km, vorm die tweede grootste sytak van die Donau na die Tisza (volgens sy gemiddelde afloop van 1 609 m³/s is die Sava die waterrykste takrivier). Die Sava vorm die noordelike grens van die Balkanskiereiland en die suidelike grens van die Pannoniese Laagvlakte. Die Sava vloei deur drie nasionale hoofstede: die Sloweense Ljubljana, die Kroatiese Zagreb en die Serwiese Belgrado. Altesaam meer as agt miljoen mense leef in die Sava-bekken, veral Bosniërs, Kroate, Serwiërs en Slowene. Die Sava-bekken word in die suide deur die Dinariese Alpe begrens.
Die Sava ontstaan deur die saamvloei van Sava Bohinjka en Sava Dolinka naby Radovljica, Slowenië, in die Alpe, net suid van die grens met Oostenryk. Aansluitend vloei die Sava in 'n suidoostelike rigting en bereik die Sloweense hoofstad Ljubljana. Van hier af vloei die rivier verder in 'n suidoostelike rigting en bereik Kroasië. Net ná die grens vloei die Sava deur die Kroatiese hoofstad Zagreb. Die rivier gaan voort in 'n suidoostelike rigting en vorm later vir 'n lang stuk die noordelike grens van Bosnië en Herzegowina met Kroasië. Verder oos vorm die Sava vir 'n kort stukkie die grens tussen Serwië en Bosnië en Herzegowina, voordat hy in 'n oostelike rigting vloei en in die Serwiese hoofstad Belgrado in die Donau uitmond.