Sikkim | |
---|---|
Sononder oor die Kangchenjunga | |
Leuse(s): Kham sum wangdu ("Oorwinnaar van die drie wêrelde") Volkslied: Jahan Bagcha Teesta Rangeet ("Waar Teesta en Rangeet vloei") | |
Ligging van Sikkim in Indië | |
Koördinate: 27°33′0″N 88°30′0″O / 27.55000°N 88.50000°O | |
Land | Indië |
Hoofstad | Gangtok |
Grootste stad | Gangtok |
Toetreding tot die Unie | 16 Mei 1975 |
Regering | |
• Tipe | Regering van Sikkim |
• Goewerneur | Ganga Prasad |
• Hoofminister | Prem Singh Tamang (SKM) |
Oppervlak | |
• Totaal | 7 096 km2 (2 740 vk. myl) |
Bevolking | |
• Totaal | 610 577 |
• Digtheid | 86/km2 (220/vk. myl) |
• Rang | 28ste |
Tydsone | UTC+05:30 (IST) |
Amptelike tale[2][3] | Engels, Nepalees, Sikkimees en Lepcha Gurung, Limbu, Magar, Mukhia, Newari, Rai, Sjerpa en Tamang (sekondêre ampstale) |
Webwerf | www.sikkim.gov.in |
Sikkim (Nepalees: सिक्किम, [ˈsikːim]; Newari: सिक्किम; Tibettaans: འབྲས་མོ་ལྗོངས་) is 'n klein deelstaat in die noordooste van Indië. Dit grens in die noorde aan die Volksrepubliek China se Outonome Gewes Tibet, in die weste aan Nepal, in die ooste aan Bhoetan en in die suide aan die Indiese deelstaat Wes-Bengale. Sikkim lê ook naby die Indiese Siliguri-korridor naby Bangladesj. Die hoofstad en die grootste nedersetting is Gangtok. Die deelstaat het 'n bevolking van 607 688 in 2011 gehad en beslaan 'n oppervlakte van 7 096 km². Sedert 1975 is die gebied 'n Indiese deelstaat en tot 2005 was die gebied tussen Indië en China omstrede.
Sikkim, wat in die oostelike Himalaja lê, is bekend vir sy biodiversiteit, insluitend alpiene en subtropiese klimaatssones, maar ook vir Kangchenjunga, die hoogste piek in Indië en die derde hoogste op aarde.[4] Byna 35% van die deelstaat word beslaan deur die Nasionale Park Kangchenjunga – 'n Unesco-wêrelderfenisgebied.[5]
Die Koninkryk Sikkim is in die 17de eeu deur die Namgyal-dinastie gestig. Dit is regeer deur Boeddhistiese priesterkonings, Chogyal genoem. Dit het in 1890 'n vorstelike staat van Brits-Indië geword. Ná die onafhanklikheid van Indië het Sikkim na 1947 sy protektoraatstatus by die Unie van Indië en die Republiek Indië voortgesit. Dit het die hoogste geletterdheidskoers en inkomste per capita onder die Himalajalande geniet. In 1973 het anti-koninklike onluste voor die Chogyal-paleis plaasgevind. In 1975, nadat die Indiese leër die stad Gangtok oorgeneem het, is 'n referendum gehou wat daartoe gelei het dat die monargie neergelê is en Sikkim as 22ste deelstaat by Indië aangesluit het.[6]
Die huidige Sikkim is 'n veeltalige en etnies diverse Indiese deelstaat. Die amptelike tale is Engels, Nepalees, Sikkimees en Lepcha.[7] Sekondêre ampstale sluit in Gurung, Limbu, Magar, Mukhia, Newari, Rai, Sjerpa en Tamang vir die behoud van kultuur en tradisies in die deelstaat.[7] Engels word in skole onderrig en in regeringsdokumente gebruik. Die oorheersende godsdienste is Hindoeïsme en Vajrayana-Boeddhisme. Sikkim se ekonomie is veral van landbou en toerisme afhanklik. Vanaf 2014 het die deelstaat die derde kleinste BBP onder die Indiese deelstate gehad,[8] hoewel dit ook onder die vinnigste groeiende is.[8][9]
Sikkim is die grootste vervaardiger van kardamom in Indië en die tweede grootste wêreldprodusent van dié spesery na Guatemala. Sikkim het sy ambisie bereik om sy landbou tussen 2003 en 2016 ten volle organies te omskep en het die eerste Indiese deelstaat geword wat dié mylpaal bereik het.[10][11] Dit is ook een van die mees omgewingsbewuste Indiese deelstate, en het plastiekwaterbottels verbied "in enige regeringsfunksies en vergaderings" en polistireenprodukte (in die hele deelstaat).[12][13]