’n Sirkadiese ritme is ’n natuurlike, interne proses wat die slaap-wakker-siklus reguleer en sowat elke 24 uur herhaal word.[1] Dit kan na enige biologiese proses verwys wat ’n interne, aangepaste herhaling van sowat 24 uur toon. Dié ritmes van 24 uur word deur die sirkadiese horlosie beheer en is al waargeneem in plante, diere, swamme en sianobakterieë.[2]
Die term "sirkadies" is afgelei van die Latynse circa ("omtrent") en diem ("dag"), want dit dui nie presies ’n dag aan as die organisme weggeneem word van eksterne aanwysers (soos die lig in die omgewing) nie. Die horlosies in mense in ’n laboratorium met ’n konstante dowwe lig sal byvoorbeeld sowat 24,2 uur per dag aandui, in plaas van presies 24 uur.[3]
Die amptelike studie van biologiese tydritmes, soos daaglikse, weeklikse, seisoenale, jaarlikse of getyritmes, word chronobiologie genoem. Prosesse met wisselings van 24 uur word eintlik daaglikse ritmes genoem; hulle is net sirkadiese ritmes wanneer die interne aard daarvan bevestig is.[4]
Hoewel sirkadiese ritmes intern is, word hulle ook deur die omgewing aangepas, soos lig en temperatuur. In geneeskunde is ’n abnormale sirkadiese ritme in mense bekend as sirkadieseritmesteuring.[5]
In 2017 is die Nobelprys vir Fisiologie of Geneeskunde aan Jeffrey C. Hall, Michael Rosbash en Michael W. Young toegeken "vir hulle ontdekking van molekulêre meganismes wat die sirkadiese ritme beheer" in vrugtevlieë.[6]