’n Swaartekragslinger (Engels: gravity assist maneuver of gravitational slingshot) in astrodinamika en lugvaartingenieurswese is die gebruik van die relatiewe beweging (byvoorbeeld ’n wentelbaan om die Son) en swaartekrag van ’n planeet of ander hemelliggaam met die doel om die baan en spoed van ’n ruimtetuig te verander – gewoonlik om dryfmiddel en koste te bespaar.
’n Swaartekragslinger kan gebruik word om ’n ruimtetuig se spoed te laat toe- of afneem of die rigting van sy baan te verander. Die "slinger" word verskaf deur die beweging van die planeet of ander liggaam terwyl dit aan die ruimtetuig trek.[1] Die metode is in 1959 die eerste gebruik toe die Sowjettuig Loena 3 die ander kant van die Aarde se Maan afgeneem het. Dit is daarna, van Mariner 10 af, deur interplanetêre ruimtetuie gebruik, insluitende met Voyager 1 en Voyager 2 se verbyvlugte van Jupiter en Saturnus.