Taksim-plein (Turks: Taksim Meydanı) is in die hartjie van die Europese deel van Istanboel, Turkye, geleë. Dit is ’n belangrike toeriste- en vermaakterrein wat bekend is vir sy restaurante, winkels en hotelle. Dit word beskou as die hart van moderne Istanboel en bevat die Republiekmonument (Cumhuriyet Anıtı), wat in 1928 gebou is en die stigting van die Republiek van Turkye herdenk.
Taksim, van die Arabiese woord taqṣīm, beteken verdeling of verspreiding. Dit was oorspronklik die plek waar die water van die noorde van Istanboel verdeel en na ander dele van die stad versprei is.
Vandag is Taksim-plein ’n belangrike vervoersentrum en ’n gewilde bestemming vir sowel toeriste as plaaslike bewoners. İstiklal Caddesi, ’n lang wandellaan, eindig by die plein, en ’n ou trem loop van die plein met die laan langs na die Tünel, wat die wêreld se tweede oudste ondergrondse spoorlyn is ná die Londense moltrein. Rondom die plein is talle reisagentskappe, hotelle, restaurante, kroeë en internasionale kitskosplekke soos Pizza Hut, McDonald's en Burger King.
Dit is ook ’n gewilde plek vir openbare geleenthede soos parades, vierings en selfs protesoptogte.