Die 16e-eeuse beweging in die Rooms-Katolieke Kerk wat met die term Teenhervorming aangedui word, was 'n onderdeel van 'n breër hervormingsbeweging in die Kerk wat reeds in die 15e eeu begin en as die "Katolieke Reformasie" bekend gestaan het. Aanvanklik was die propagering van verandering beperk tot individue of spesifieke ordes soos die Observante.
Die verkondiging van Martin Luther se Hervormingsleer in Duitsland in die vroeë 16e eeu en die politieke implikasies wat dit vir keiser Karel V ingehou het, het daartoe gelei dat die hoër leiding van die Kerk, ingeslote die pous, bewus geword het van die noodsaaklikheid van hervorming. Die byeenkoms van die Konsilie van Trente (1545-1563) was dus nie net 'n reaksie op die Hervorming nie, maar 'n uitvloeisel van 'n hervormingsbeweging in die Kerk self. Die Konsilie van Trente, waar die Rooms-Katolieke Kerk op alle vlakke hervorm is, het tot in die 20e eeu 'n groot invloed uitgeoefen op die organisasie en amptelike leerstellings van die Kerk.