Thomas Frederik Dreyer (plaas Bruintjieshoogte, indertydse distrik Graaff-Reinet, Kaapkolonie, 18 November 1815 – plaas Rietfontein 927, wyk Elandsrivier, distrik Rustenburg [nou Swartruggens], Transvaal, 5 Julie 1889) was ’n baanbreker in die Zuid-Afrikaansche Republiek.
Hy word, saam met oudl. P.J.W. Schutte, beskou as "een van die waaragtig grotes uit die dae van die Afskeiding" van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Ds. J.V. Coetzee beskryf hom as "’n man uit een stuk, ’n vors in Israel". Hy was ’n welbekende figuur in die Rustenburgse en omliggende distrikte, kommandant-generaal van die Transvaalse kommando's in die Vrystaat se oorlog teen die Basoeto's en lid van die Transvaalse Volksraad van 1861 tot 1866. Hy het in kerklike en politieke aangeleenthede in noue samewerking verkeer met sy mede-Gereformeerdes Paul Kruger en Schutte.