Titaan soos in 2011 afgeneem in natuurlike kleur. Die dik atmosfeer is geel vanweë 'n digte mis. | |
Wentelbaaneienskappe[1] | |
---|---|
Periapside | 1 186 680 km |
Apoapside | 1 257 060 km |
Halwe lengteas | 1 221 870 km |
Wentelperiode | 15,945 days |
Gem. omwentelingspoed | 5,57 km/s (bereken) |
Baanhelling | 0,34854 ° (tot Saturnus se ewenaar) |
Satelliet van | Saturnus |
Fisiese eienskappe |
|
Gem. radius | 2 574,73±0,09 km (0,404 Aardes)[2] |
Oppervlakte | 8,3×107 km2 (0,163 Aardes) |
Volume | 7,16×1010 km3 (0,066 Aardes) |
Massa | 1,3452±0,0002×1023 kg (0,0225 Aardes)[3] |
Gem. digtheid | 1,8798±0,0044 g/cm3[3] |
Oppervlak- aantrekkingskrag | 1,352 m/s2 (0,138 g) |
Traagheidsfaktormoment | 0,3414±0,0005[4] (raming) |
Ontsnapping- snelheid | 2,641 km/s |
Rotasieperiode | Sinchronies |
Ashelling | 0 |
Temperatuur | 93,7 K[5] |
Skynmagnitude | 8,2[6] tot 9,0 |
Titaan (Grieks: Τῑτάν; ook Saturnus VI) is die grootste natuurlike satelliet van Saturnus en die tweede grootste in die Sonnestelsel. Dit is groter as enige van die dwergplanete. Dit is die enigste maan met 'n digte atmosfeer en die enigste liggaam in die ruimte buiten die Aarde waarop duidelike bewyse van stabiele oppervlakvloeistof gevind is.[7]
Titaan is een van sewe mane van Saturnus wat in hidrostatiese ewewig is en dus rond gedruk is deur sy swaartekrag. Van dié sewe is hy die tweede verste van die planeet af. Titaan word dikwels beskryf as 'n planeetagtige maan; sy deursnee is 50% groter as dié van die Aarde se Maan en sy massa is 80% groter. Dit is die grootste maan in die Sonnestelsel naas Jupiter se Ganumedes en is groter as die planeet Mercurius, maar sy massa is net 40% van Mercurius s'n.
Titaan is in 1655 deur die Nederlandse sterrekundige Christiaan Huygens ontdek. Dit is Saturnus se eerste bekende maan en die sesde bekende maan in die Sonnestelsel, naas die Aarde se Maan en Jupiter se mane van Galilei. Titaan wentel 20 Saturnusradiusse van sy planeet af.
Titaan bestaan hoofsaaklik uit ys en rotsagtige materiaal, en het waarskynlik 'n rotskern, omring deur verskeie lae ys, insluitende 'n kors van ys en 'n laag ammoniakryke vloeibare water onder die oppervlak.[8] Nes met Venus voor die ruimtetydperk het Titaan se digte atmosfeer enige kennis van sy oppervlak verhoed, totdat die Cassini-Huygens-sending in 2004 nuwe inligting versamel het, insluitende die ontdekking van koolwaterstofmere in Titaan se poolstreke en van sy atmosferiese superrotasie, wanneer 'n liggaam se atmosfeer vinniger roteer as die liggaam self. Die geologies jong atmosfeer is oor die algemeen glad, met min impakkraters, hoewel berge en moontlik 'n paar kriovulkane waargeneem is.
Titaan se atmosfeer bestaan hoofsaaklik uit stikstof; kleiner dele lei tot die vorming van metaan- en etaanwolke en 'n digte mis. Die klimaat – insluitende wind en reën – veroorsaak oppervlakverskynsels soortgelyk aan dié op die Aarde, soos duine, riviere, mere, seë (moontlik van metaan en etaan) en deltas. Dit word ook oorheers deur seisoenale weerpatrone soos op die Aarde. Met sy vloeistowwe (beide bo en onder die oppervlak) en digte stikstofatmosfeer lyk Titaan se metaansiklus treffend baie soos die aarde se watersiklus, hoewel teen 'n laer temperatuur van sowat 94 K (-179 °C). As gevolg hiervan is Titaan al beskryf as die aardagtigste hemelliggaam in die Sonnestelsel.[9]
<ref>
tag; no text was provided for refs named horizons