Toonhoogte is ’n waargenome eienskap van klanke wat toelaat dat hulle in ’n frekwensie-verwante toonleer gerangskik kan word.[1] In 'n algemene sin is toonhoogte die eienskap wat dit moontlik maak om klanke as "hoër" en "laer" in vergelyking met mekaar in musikale melodieë te plaas.[2] Toonhoogte kan slegs bepaal word in klanke wat ’n frekwensie het wat duidelik en stabiel genoeg is om dit van geraas te onderskei.[3] Toonhoogte is ’n gehoorkenmerk van musieknote, saam met duur, klanksterkte en toonkleur.[4]
Toonhoogte kan in syfers uitgedruk word as ’n frekwensie, maar toonhoogte is nie ’n suiwer objektiewe fisiese kenmerk nie; dit is ’n subjektiewe psigoakoestiese eienskap van klank. Histories was die bestudering van toonhoogte en die waarneming daarvan ’n sentrale probleem in psigoakoestiek, en dit het ’n bydrae gelewer om teorieë van klankverteenwoordiging, -verwerking en -waarneming in die gehoorstelsel te vorm en te toets.[5]