Tsitsikamma- Nasionale Park | |
---|---|
Land | Suid-Afrika |
Provinsie | Oos- en Wes-Kaap |
Naaste dorp | Knysna |
Koördinate: 34°01′0″S 23°53′0″O / 34.01667°S 23.88333°O | |
Bestuursliggaam | SANParke |
Webblad | Tsitsikamma- Nasionale Park |
Die Tsitsikamma- Nasionale Park is 'n park op die Tuinroete in die Oos-Kaap van Suid-Afrika. Op 6 Maart 2009 het die park met die Nasionale Wildernispark, Knysna Nasionale Meergebied en ander areas saamgesmelt om die nuwe Tuinroete- Nasionale Park te vorm.
Die park is bekend vir sy woude en asemrowende kuslyn. Dit strek ongeveer 80 kilometer langs die Indiese Oseaan-kuslyn af. Die Bloukransbrug is in die omgewing vanwaar mens 'n 216 meter reksprong kan uitvoer.
Tsitsikamma beteken 'plek van baie water'. Die Nasionale Tsitsikammapark bestaan uit 'n strook kuslyn van ongeveer 75 km en 'n afsonderlike stuk inheemse woud van ongeveer 480 ha aan die Suid-Kaapse kus tussen Knysna en Humansdorp.
Die hoofdoel van die park is die beskerming van die seelewe, en op die oomblik is dit die enigste mariene park in Suider-Afrika. Die seekuspark strek van 800 m die see in tot ongeveer die rand van 'n eskarp wat direk langs die kus geleë is. Die reënval wissel tussen ongeveer 913 mm langs die kus en 1 120 mm en hoër op die plato, en talle stroompies en riviere vloei oor of deur die eskarp na die see.
Toeristehuisvesting in die park bestaan uit ongeveer 210 beddens in chalets en ongeveer 170 kampeerplekke. Die plantegroei van die seekuspark bestaan uit tipiese Suid-Kaapse fynbos en woude, wat wissel van droë struikbos tot vogtige woude.
Die bospark bestaan grotendeels uit vogtige tot nat woud. Ongeveer 250 spesies voëls en 'n verskeidenheid soogdiere is reeds in die park aangeteken, en die seekuspark is veral bekend vir die otters wat daar in die see leef. 'n Groot verskeidenheid grotendeels ongewerwelde diere word in die see aangetref en die seelewe is veral interessant omdat daar sowel warmwater- as kouewatervorme voorkom en sommige organismes tot hierdie oorgangsone tussen die warm Agulhasstroom en die koue Benguelastroom beperk is.