Verstedeliking verwys na die verskuiwing van die bevolking vanaf landelike na stadsgebiede, "die geleidelike toename in die verhouding van mense wat in stedelike gebiede woon", en die maniere waarop elke gemeenskap by die veranderinge aanpas.[1] Dit is hoofsaaklik die proses waarin dorpe en stede gevorm word en groter word namate meer mense in die sentrale areas leef en werk.[2] Die Verenigde Nasies het voorspel dat die helfte van die wêreld se bevolking teen die einde van 2008 in stedelike gebiede sou bly.[3] Daar word voorspel dat teen 2050 sal sowat 64% van die ontwikkelende wêreld en 86% van die ontwikkelde wêreld verstedelik wees.[4] Dit is gelykstaande aan sowat 3 miljard stedelinge teen 2050, waarvan baie van die veranderings in Afrika en Asië sal plaasvind.[5] Dit is opmerklik dat die Verenigde Nasies ook onlangs geraam het dat bykans alle globale bevolkingsgroei van 2017 tot 2030 deur die stede opgeneem sal word – sowat 1.1 miljard nuwe stedelinge in die volgende 13 jaar.[6]
Verstedeliking het betrekking op 'n verskeidenheid dissiplines, waaronder geografie, sosiologie, ekonomie, stadsbeplanning en openbare gesondheid. Die verskynsel word in verband gebring met modernisering, industrialisering en die sosiologiese proses rasionalisering. Verstedeliking kan beskou word as 'n spesifieke toestand op 'n bepaalde tyd (byvoorbeeld die verhouding van die totale bevolking in stede en dorpe) of as 'n toename in daardie toestand met verloop van tyd. Verstedeliking kan dus gekwalifiseer word deur byvoorbeeld die vlak van stedelike ontwikkeling in verhouding tot die algehele bevolking, of as die koers waarteen die verhouding van stedelinge tot die algehele bevolking toeneem. Verstedeliking skep enorme sosiale, ekonomiese en omgewingsveranderings, wat die geleentheid bied vir volhoubaarheid met die "potensiaal om hulpbronne doeltreffender te benut, om meer volhoubare grondgebruik te skep en om die biodiversiteit van natuurlike ekostelsels te beskerm".
Verstedeliking is nie net 'n moderne verskynsel nie, maar 'n vinnige en geskiedkundige transformasie van mense se sosiale wortels met 'n wêreldwye omvang, waar 'n oorwegend landelike kultuur vinnig vervang word met 'n oorwegend stedelike kultuur. Die eerste groot verandering in nedersettingspatrone was die bymekaarkom van jagter-versamelaars in dorpies baie duisende jare gelede. 'n Dorpkultuur word gekenmerk deur gemene bloedlyne, innige verhoudings en gemeenskaplike optrede, terwyl stedelike kultuur gekenmerk word deur veraf bloedlyne, onbekende verhoudings en mededingende optrede. Hierdie ongehoorde beweging van mense sal volgens raming in die volgende paar dekades voortduur en vererger, en stede laat uitbrei tot 'n mate wat so min as 'n eeu gelede ondenkbaar was.
In Asië is stedelike opeenhopings van Osaka, Karachi, Jakarta, Mumbai, Sjanghai, Manila, Seoul and Beijing reeds die tuiste van meer as 20 miljoen mense, terwyl Delhi en Tokio volgens raming binne die volgende dekade tot 40 miljoen mense kan aangroei. Buite Asië is die stad Mexico, São Paulo, Londen, New York, Istanbul, Lagos en Kaïro reeds, of sal binnekort wees, die tuiste van meer as 10 miljoen mense.