In die Noorse mitologie is 'n walkure (Oudnoors: valkyrja, "kieser van gesneuweldes") 'n stryd- of oorlogsgodin wat die siele van gesneuwelde soldate na een van twee plekke lei: Sowat die helfte gaan na Fólkvangr, die godin Freya se doderyk, en die ander helfte na die godesaal met die naam Walhalla.
Daar word die gesneuwelde vegters einherjar "enkele vegters".[1][2] Wanneer die einherjar nie voorberei vir die gebeure by Ragnarök (die eindstryd teen kwaad) nie, dra die walkures vir hulle heuningbier aan. Walkures is ook soms die minnaresse van helde en ander sterflikes, waar hulle soms beskryf word as koninklik. Hulle word soms van rawe vergesel en soms verbind met swane of perde.
Walkures word genoem in die Poëtiese Edda ('n boek met gedigte wat in die 13de eeu saamgestel is uit vroeëre tradisionele bronne) en die Prosaïese Edda (wat ook in die 13de eeu saamgestel is). Hulle verskyn in die skaldepoësie van die Oudnoorse minnesangers, 14de-eeuse magiese formules en verskeie rune-inskripsies.
In argeologiese uitgrawings dwarsoor Skandinawië is armbande ontdek wat vermoedelik walkures uitbeeld. In die moderne kultuur kom walkures voor in kunswerke, musiekproduksies, prenteverhale, videospeletjies en poësie.
Die Skandinawiese Monument by Magersfontein bestaan uit vier walkures wat Noorweë, Denemarke, Finland en Swede personifiseer.