Waterblommetjiebredie is 'n eg Suid-Afrikaanse bredie. Dit word van vleis gemaak, tipies van lam- of skaapvleis wat saam met waterblommetjies (blomme van Aponogeton distachyos) gestoof word. Waterblommetjies word algemeen in die damme en vleie van die Wes-Kaap aangetref. Die blomkoppies van die plant is in die winter tussen Julie en Augustus gereed om gepluk te word. Waterblommetjiebredie word dus meestal in die winter voorberei.