Westelike Xia | ||
Die ligging van Westelike Xia in 1111 (groen). | ||
Name (taalvariante) | ||
Tradisionele Chinees | 西夏 | |
Vereenvoudigde Chinees | 西夏 | |
Pinyin | Xī Xià | |
Wade-Giles | Hsi Hsia |
Die Westelike Xia of Xi Xia, aan die Mongole ook bekend as die Tangoetryk en aan die Tangoets self en die Tibettane as Mi-nyak,[1] was ’n ryk wat van 1038 tot 1227 bestaan het in wat vandag die noordwestelike Chinese provinsies Ningxia, Gansu, Oos-Qinghai, Noord-Shaanxi en Noordoos-Xinjiang, die suidwestelike Binne-Mongolië en die suidelikste deel van Buite-Mongolië is. Dit was sowat 800 000 km2 groot.[2][3][4]
Die hoofstad van die Westelike Xia was Xingqing (die hedendaagse Yinchuan), totdat dit in 1227 deur die Mongole verwoes is. Die grootste deel van sy geskrewe rekords en argitektuur is vernietig; dus was die stigters en geskiedenis van die ryk taamlik duister totdat navorsing in die 20ste eeu in die Weste en China gedoen is.
Die ryk het die gebied om die Hexikorridor beslaan; dit was deel van die Syroete, die belangrikste handelsroete tussen Noord-China en Sentraal-Asië. Hulle het groot suksesse behaal in letterkunde, kuns, musiek en argitektuur.[5] Hulle aansien onder die ander ryke van die Liao, Song en Jin word toegeskryf aan hulle doeltreffende militêre organisasie wat ingesluit het kavallerie, strydwaens, boogskiet, skilde, artillerie (kanonne wat op die rug van kamele vervoer is) en amfibiese troepe (wat op land en ter see kon veg).[6]