Kleisthenes (Grieks: Κλεισθένης) was 'n Atheense edelman van die Alkmaionidfamilie. Hy word beskou as die hervormer van die antieke Atheense grondwet, deurdat hy dit in 508/7 v.C. op 'n demokratiese grondslag geplaas het.[1] Weens hierdie hervormings verwys historici na hom as "die vader van Atheense demokrasie."[2] Hy was die jonger seun van Agariste, dogter van die tiran Kleisthenes van Sikyon, en haar man Megakles. Volgens geskiedkundiges sou Kleisthenes ook gesorg het dat die Atheense raad van burgers groter mag kry en dat die mag van die adel oor die Atheense politiek ingekort word.[3]