Lyne en geogliewe van die Nazca- en Palpa-kultuur* | |
---|---|
Unesco-wêrelderfenisterrein | |
'n Lugfoto van een van die Nazca-lyne wat in Julie 2015 geneem is. Dit wys die ontwerp bekend as "Die Aap". | |
Ligging van die Nazca-lyne in Peru. | |
Koördinate: 14°43′S 75°08′W / 14.717°S 75.133°W | |
Lande | ![]() |
Tipe | Kultuur |
Kriteria | i, iii, iv |
Verwysings | 700 |
Streek† | Suid-Amerika |
Koördinate | 14°43′S 75°08′W / 14.717°S 75.133°W |
Inskripsiegeskiedenis | |
Inskripsie | 1994 (18de Sessie) |
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn. † Streek soos deur Unesco geklassifiseer. |
Die Nazca-lyne is 'n groep geogliewe wat in die grond van die Nazca-woestyn in Suid-Peru gemaak is.[1] Hulle is tussen 500 v.C. en 500 n.C. deur mense gemaak wat uithollings in die woestynvloer gemaak het; hulle het klippies verwyder en grond van verskillende kleure ontbloot.[2] Daar is twee hooffases van Nazca-lyne, die Paracas-fase van 400 tot 200 v.C. en die Nazca-fase van 200 v.C. tot 500 n.C.[3] In die jare voor 2020 is tussen 80 en 100 nuwe figure met die hulp van hommeltuie ontdek, en argeoloë dink daar is nog.[4]
Die meeste lyne loop reguit deur die landskap, maar daar is ook figuratiewe ontwerpe van diere en plante. Die individuele figuratiewe geogliefontwerpe is tussen 400 en 1 100 m breed. Die lengte van al die lyne saam is meer as 1 300 km en die groep bedek 'n oppervlakte van sowat 50 km2. Die lyne is gewoonlik 10-15 cm diep. Hulle is gemaak deur die boonste laag rooibruin klippies met 'n ysteroksiedlaag om te verwyder en 'n geelgrys grond daaronder te ontbloot.[5][2] Die lyne se breedte verskil aansienlik, maar meer as die helfte is effens breër as 33 cm.[1][6] Op sommige plekke is hulle net 30 cm breed en op ander plekke tot 1,8 m.[1]
Van die Nazca-lyne het vorms wat die beste uit die lug gesien kan word (op 'n hoogte van omtrent 500 m), hoewel hulle ook van die omringende voorheuwels en ander hoë plekke te sien is.[7][8][9] Die ontwerpe bestaan gewoonlik uit een aaneenlopende lyn. Die lyn van die grootstes is omtrent 370 m lank.[5] Danksy die afsondering en die droë, windlose klimaat van die plato, het die lyne meestal natuurlik bewaar gebly. Uiters skaars weersveranderings kan die ontwerpe van die lyne tydelik verander. Teen 2012 is gesê die lyne gaan agteruit weens die instroming van plakkers na die gebied.[10]
Die ingewikkeldheid van die lyne varieer. Honderde is eenvoudige lyne en geometriese patrone; meer as 70 is diere-ontwerpe, soos 'n kolibrie, spinnekop, vis, kondor, aap, kat, hond en 'n mens. Ander vorms sluit in bome en blomme.[2] Geleerdes verskil oor die betekenis van die ontwerpe, maar die meeste heg godsdienstige betekenisse daaraan.[11][12][13][14] Die ontwerpe is in 1994 aangewys as 'n Unesco-wêrelderfenisgebied.