Die term Purana (Sanskrit: पुराण purāṇa; letterlik "antiek, oud")[1] verwys na ’n uitgebreide genre van Indiese letterkunde oor ’n groot reeks onderwerpe, veral mites, legendes en ander tradisionele verhale.[2] Dit is hoofsaaklik in Sanskrit geskryf, maar ook in streekstale.[3][4]
Verskeie van hierdie geskrifte is genoem na belangrike Hindoegode soos Vishnu, Shiva en Devi.[5][6] Die Purana-letterkundegenre word in beide Hindoeïsme en Djainisme aangetref.[3]
Die Puranas is ensiklopedies[1] en sluit uiteenlopende onderwerpe in soos die skeppingsleer, kosmologie, stamboeke van gode, godinne, konings, helde en halfgode, volksverhale, pelgrimstogte, tempels, medisyne, sterrekunde, grammatika, mineralogie, humor, liefdesverhale, teologie en filosofie.[2][4][5] Die inhoud is geensins eenvormig nie en daar is verskeie manuskripte van elke Purana wat onderling verskil.[3] Dit is anonieme tekste en waarskynlik die werk van baie skrywers oor die eeue heen; in teenstelling daarmee het die meeste Djaina-puranas ’n datum en die naam van ’n skrywer by.[3]
Daar is 18 Mahapuranas (Groot Puranas) en 18 Upapuranas (Klein Puranas),[7] met meer as 400 000 verse.[2] Die eerste weergawes van die onderskeie Puranas is waarskynlik tussen die 3de en 10de eeu saamgestel.[8] Die Puranas word beskou as smriti, werke waarvan aangeneem word dit berus op ’n goddelike openbaring maar is deur mense saamgestel en oorvertel.
Die Puranas was invloedryk in die Hindoekultuur en het groot jaarlikse nasionale en streeksfeeste geïnspireer.[9] Hul rol en waarde as sektariese godsdienstekste en historiese tekste is omstrede, want baie gode en godinne word geprys en dit is nie duidelik presies hoe sektaries hulle is nie, volgens Ludo Rocher.[10] Die godsdienspraktyke wat daarin vervat is, word beskou as Vaidika (in ooreenstemming met Vediese letterkunde).[11]
Die Bhagavatapurana word beskou as een van die gewildste tekste in die genre.[12][13]