Ricotta | ||
Oorsprong | Italië | |
Melkbron | Skape, koeie, bokke, Italiaanse waterbuffels | |
Eienskappe | ||
Tekstuur | Vars; sag tot halfsag | |
Veroudering | Geen, of tot ’n jaar |
Ricotta is ’n Italiaanse weikaas wat van die wei van ’n skaap, koei, bok of Italiaanse waterbuffel deur die byvoeging van vars melk of room en suurlemoensuur gemaak word. Die wei is wat oorbly nadat kaas gemaak is - in Italië hoofsaaklik pecorino, mozzarella of provolone.
Ricotta beteken letterlik "weer gekook". Die proteïen kan geoes word as die wei eers toegelaat is om suurder te word deur bykomende gissing (deur dit vir 12–24 uur teen kamertemperatuur te los). Dan word die versuurde wei verhit totdat dit byna kook. Die kombinasie van ’n lae pH en hoë temperatuur laat die proteïen van karakter verander en veroorsaak dat dit afsak, en so vorm ’n fyn wrongel. Nadat dit afgekoel is, word dit geskei deur die vloeistof deur ’n fyn doek te gooi; die wrongel bly dan agter.
Ricottawrongel is roomwit van kleur en effens soet. Die vetinhoud hang af van die soort melk wat gebruik is.[1][2] In hierdie vorm is die tekstuur soortgelyk aan dié van sekere maaskase, maar taamlik ligter. Dit verderf gou, hoewel daar ook variasies is wat veel langer hou.