Vrywaring: Die mediese inligting verskaf op Wikipedia dien slegs as 'n riglyn en dra geen waarborg van feitelike korrektheid nie. Enige vrae of klagtes oor u persoonlike gesondheid behoort na 'n dokter verwys te word. |
Sidovudien of asidotimidien ("AZT"), behoort aan die klas geneesmiddels bekend as nukleosied analoog trutranskriptase remmers (NRTIs), wat die ensiem trutranskriptase blokkeer, 'n ensiem wat onmisbaar is vir virusvoortplanting. AZT is 'n tipe teenretrovirale middel wat gebruik word om MIV/VIGS infeksie te behandel.
AZT was die eerste regeringsgoedgekeurde MIV-behandeling in die VSA (20 Maart 1987), voorgeskryf onder die handelsname Retrovir en Retrovis. AZT het die vermenigvuldiging van die virus in siek persone beduidend verlaag en kliniese en immunologiese verbetering van die toestand getoon.[1] Sidovudien word ook gebruik om oordrag van MIV te verhoed, bv. moeder-na-baba na geboorte, of nadat 'n naaldprik per abuis opgedoen is. Indien dit alleen gebruik word vir pasiente met MIV-infeksie, rem AZT die vermenigvuldiging van MIV by pasiënte, maar dit dood nie die virus geheel en al nie.[2] Dit mag die MI-virusse uitlok om mettertyd AZT-weerstandig te raak, en daarom word Sidovudien slegs in kombinasie met ander teenretrovirale middels toegedien as deel van 'n hoogs-aktiewe antiretrovirale terapie (HAART).