Egiptiese tempels is gebou vir die amptelike aanbidding van die gode en gedenking van die farao's in Antieke Egipte en streke onder Egiptiese beheer. Tempels is beskou as die huise van die gode of konings aan wie hulle gewy is. Hier het die Egiptenare verskeie rituele uitgevoer: offerandes gebring, die gode se mitologiese interaksies nageboots met feeste en die magte van chaos afgeweer. Dié rituele is beskou as noodsaaklik vir die handhawing van maät, die goddelike orde van die heelal.
Dit was die farao's se plig om vir die gode te sorg en hulle het groot bedrae bestee aan die bou en instandhouding van die tempels. Hulle was genoodsaak om die meeste van hul rituele pligte oor te laat aan verskeie priesters, maar die grootste deel van die bevolking was uitgesluit van direkte deelname aan seremonies en toegang tot die heiligste plekke was vir hulle verbode. Tog was die tempel ’n belangrike godsdienstige plek vir Egiptenare van alle klasse; hulle het daar gaan bid, offerandes gebring en leiding van die gode gevra met behulp van ’n orakel.
Die belangrikste plek in die tempel was die heiligdom, wat gewoonlik ’n kultusafbeelding, ’n standbeeld van die god, bevat het. Die kamers buite die heiligdom het mettertyd groter en uitspattiger geword – tempels het dus ontwikkel van klein altare in die laat voordinastiese tydperk (laat 4de millennium v.C.) tot massiewe steengeboue in die Nuwe Ryk (omstreeks 1550–1070 v.C.) en later. Hierdie aanbiddingsplekke was van die grootste en langs oorblywende voorbeelde van die Antieke Egiptiese argitektuur, en die elemente is gerangskik en versier volgens ’n ingewikkelde patroon van godsdienstige simboliek. Hulle het gewoonlik bestaan uit ’n paar toe sale, oop howe en massiewe ingangsuile wat opgelyn het met die pad wat deur feesoptogte gevolg is. Buite die tempel was ’n buitemuur met ’n groot verskeidenheid kleiner geboue.
’n Groot tempel het ook groot stukke grond besit en duisende werkers in diens gehad wat in die tempel se behoeftes voorsien het. Hulle was dus belangrike godsdienstige én ekonomiese sentrums. Die priesters wat hierdie magtige instellings beheer het, het aansienlike invloed gehad en hoewel hulle veronderstel was om ondergeskik aan die farao te wees, het hulle soms sy mag uitgedaag.
Tempels is steeds gebou nadat Egipte sy onafhanklikheid verloor en ’n provinsie van die Romeinse Ryk geword het. Met die koms van die Christendom is volgelinge van die Egiptiese gode al hoe meer vervolg en die laaste tempel is in 550 n.C. gesluit. Die geboue is eeue lank verniel en verwaarloos, maar aan die begin van die 19de eeu het belangstelling in Antieke Egipte weer opgevlam en gelei tot die ontstaan van Egiptologie. Duisende mense het Egipte besoek om die antieke beskawings se oorblyfsels te sien. Tientalle tempel het behoue gebly en van hulle het beroemde toeriste-attraksies geword wat baie bydra tot die ekonomie van moderne Egipte. Egiptoloë bestudeer steeds die tempels en oorblyfsels van verwoeste tempels omdat hulle belangrike bronne van inligting is oor die Antieke Egiptiese beskawing.