Italiaans italiano, lingua italiana | ||
---|---|---|
Uitspraak: | [itaˈljaːno], [ˈliŋɡwa itaˈljaːna] | |
Gepraat in: | Italië Switserland San Marino Vatikaanstad Slowenië Kroasië Somalië Eritrea Libië Malta Kosovo Montenegro | |
Gebied: | Suid-Europa | |
Totale sprekers: | 64 miljoen (moedertaal) 3 miljoen (tweede taal)[1] | |
Rang: | 20 | |
Taalfamilie: | Indo-Europees Italies Romaans Wes-Romaans Italoromaans Italiaans | |
Skrifstelsel: | Latynse alfabet | |
Amptelike status | ||
Amptelike taal in: | Europese Unie Italië Switserland San Marino Vatikaanstad Orde van Malta | |
Gereguleer deur: | Accademia della Crusca | |
Taalbedreigingstatus | ||
EXUitgestorwe taal NE
Nie bedreig nie Dit is nie 'n bedreigde taal volgens die UNESCO-wêreldatlas van bedreigde tale.
| ||
Taalkodes | ||
ISO 639-1: | it
| |
ISO 639-2: | ita
| |
ISO 639-3: | ita
| |
Nota: Hierdie bladsy kan IFA fonetiese simbole in Unicode bevat. |
Die taal Italiaans (italiano, [itaˈljaːno], of lingua italiana, [ˈliŋɡwa itaˈljaːna]) is 'n lid van die Romaanse taalgroep. Net soos ander Romaanse tale was die gesproke Latynse taal of Vulgêrlatyn die uitgangspunt vir 'n taalkundige proses wat in die Middeleeue met die vestiging van Italiaans as selfstandige taal afgesluit is. Die oudste tekste, wat as Italiaans geklassifiseer word, dateer uit die tydperk tussen 960 en 963 en staan bekend as Placiti Cassinesi. Hulle is opgestel as juridiese dokumente vir die beslegting van 'n grondgeskil tussen drie Benediktyne-kloosters en 'n plaaslike grondeienaar in die omgewing van Capua, Kampanië. Blykbaar was ten minste een van die partye Latyn nie magtig nie sodat 'n vertaling in die volkstaal of volgare as nodig geag is.[2][3]
Italiaans word deur ongeveer 65 miljoen sprekers in Italië, San Marino, die Vatikaanstad, Switserland (hoofsaaklik in die kanton Ticino), Monaco, Frankryk (département Alpes-Maritimes), Italiaanse minderhede in dele van Kroasië en Slowenië asook Italiaanse gemeenskappe in die Europese en oorsese buiteland gepraat. So is dit danksy grootskaalse immigrasie vanaf die 19de eeu die tweede mees gesproke taal in Argentinië naas Spaans. Met die groot emigrasiegolwe van die laat 19de en vroeë 20ste eeu is Italiaans as een van die mees gesproke tale naas Engels in die Verenigde State gevestig. Wêreldwyd is tussen vyftien en twintig miljoen sprekers Italiaans as tweede taal magtig.