Johannesburgse Kunsmuseum

Johannesburgse Kunsmuseum
'n Beeld van die museum.
Die hoofingang van die Johannesburgse Kunsmuseum, wat in 1915 saam met die oudste deel van die gebou voltooi is.

Plek Johannesburg
Land Suid-Afrika
Openingsjaar 1910
Tipe museum Kunsmuseum
Webtuiste www.artefacts.co.za

Die Johannesburgse Kunsmuseum is die stad Johannesburg se munisipale kunsmuseum. Dit is in die sentrale stadsdeel in Joubertpark op die hoek van Klein- en Koning Georgestraat geleë en is die grootste van sy soort in Suider-Afrika, met kunswerke van wêreldfaam en versamelings wat omvangryker is as dié van die Suid-Afrikaanse Nasionale Kunsmuseum in Kaapstad, so omvangryk dat slegs sowat 'n tiende daarvan tegelykertyd in die galery se 15 vertoonsale en beeldhoutuine vertoon kan word.

Naas die geskenk van die Dieretuin-terrein aan die inwoners van die stad, is die Kunsmuseum seker die belangrikste monument van die wyse waarop die welvarende mynmagnate 'n deel van hul rykdom in die stad teruggeploeg het. Tog het Gerard-Mark van der Waal in 1986 geskryf: “ 'n Mens wonder . . . of dit blyke van hul verantwoordelikheidsgevoel en sin vir gemeenskapswaardes was of van hulle gewete wat (hulle) gepla het terwyl hulle die arbeiders (swartes) uitgebuit het.”[1]

Ten spyte van terugslae was die oprigting van hierdie "kultuurmonument" 'n belangrike mylpaal in die kunslewe en kulturele opvoeding van die Johannesburgse publiek. Die museumgebou is deur die befaamde Britse argitek en boumeester van Nieu-Delhi in Indië, Edwin Lutyens, ontwerp. In 1934 is dit beskryf as ". . . one of the finest architectural conceptions south of the equator".

Tans huisves die kunsmuseum meer as 9 000 werke deur onder andere Auguste Rodin, Dante Gabriel Rossetti, Pablo Picasso, Camille Pissarro, Claude Monet, Edgar Degas, Herbert Ward en Henry Moore, en Suid-Afrikaners soos Gerard Sekoto, Walter Battiss, Alexis Preller, Maud Sumner, Sydney Kumalo, Ezrom Legae en Pierneef. Dit huisves ook 'n uitgebreide versameling werke deur hedendaagse kunstenaars.[2]

  1. Van der Waal, Gerhard-Mark. 1986. Van mynkamp tot metropolis. Die boukuns van Johannesburg, 1886–1940. Johannesburg: Chris van Rensburg Publikasies
  2. (en) Johannesburg Art Gallery op die webtuiste Gauteng.net Geargiveer 30 April 2016 op Wayback Machine. URL besoek op 26 April 2016.

Johannesburgse Kunsmuseum

Dodaje.pl - Ogłoszenia lokalne