Oenas (ook Unas, Unis of Wenis gespel, en volgens Manetho bekend onder die Hellenistiese naam Onnos) was die laaste Egiptiese farao van die 5de Dinastie van die Ou Ryk.[1] Daar word gereken hy het tussen 2375 en 2345 v.C. regeer.[2] Hy het vermoedelik twee vroue gehad, Nebet en Chenoet, na aanleiding van hul grafte naby sy grafkelder.[3]
Volgens Manetho het die 5de Dinastie met sy dood tot ’n einde gekom en het hy dus waarskynlik geen seuns gehad nie. In die Turynse Koningslys word hier ook ’n spasie ingevoeg, en volgens Jaromir Malek is dit gewoonlik gedoen wanneer daar ’n verskuiwing van die hoofstad en koninklike woning was.[4] Daar is egter wel tekens dat daar kontinuïteit was tussen die 5de en die 6de Dinastie: Kagemni, Djedkare en Oenas se raadgewer, het sy loopbaan onder Oenas se opvolger, Teti, voortgesit; Teti se koningin, Ipoet, was vermoedelik Oenas se dogter. Dit wys volgens Nicolas Grimal dat daar geen breuk tussen die dinastieë was nie.[5] Die breuk was waarskynlik bloot weens ’n amptelike skuif.
- ↑ King Unas (Digital Egypt)
- ↑ Jaromir Malek, "The Old Kingdom (c.2160-2055 BC)" in Ian Shaw (red.), The Oxford History of Ancient Egypt (Oxford: University Press, 2000), p. 112. The Digital Egypt website by die University College of London gee die datum aan as 2450-2300 BC.
- ↑ "Unas, Last Ruler of the Fifth Dynasty" (in Engels). Touregypt.net. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 Oktober 2019. Besoek op 2 Januarie 2012.
- ↑ Malek, "The Old Kingdom", bl. 113f
- ↑ Nicolas Grimal, A History of Ancient Egypt, vertaal deur Ian Shaw (Oxford: Blackwell, 1992), bl. 80