| |||||
Nasionale leuse: Majulah Singapura (Maleis vir: "Voorwaarts, Singapoer") | |||||
Volkslied: Majulah Singapura (Maleis vir: "Voorwaarts, Singapoer") | |||||
Hoofstad | Singapoer (Downtown Core, Central) | ||||
Grootste stad | Singapoer | ||||
Amptelike tale | Chinees, Engels, Maleis, Tamil | ||||
Regering | Unitêre presidensiële grondwetlike republiek Tharman Shanmugaratnam Lawrence Wong | ||||
Onafhanklikheid Vorming
• Stigting • Selfregering • Onafhanklikheid van die Verenigde Koninkryk • Samesmelting met Maleisië • Skeiding van Maleisië en huidige grondwet |
6 Februarie 1819[1] 3 Junie 1959[2] 31 Augustus 1963[3] 16 September 1963[3] 9 Augustus 1965[3] | ||||
Oppervlakte - Totaal - Water (%) |
719[4] km2 (190ste) 277,6 myl2 feitlik geen | ||||
Bevolking - 2024-skatting - Digtheid |
6 028 459[4] (114de) 8 384,5 / km2 (2de) 21 716,4 / myl2 | ||||
BBP (KKP) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
BBP (nominaal) - Totaal - Per capita |
2024-skatting | ||||
MOI (2022) | 0,949[6] (9de) – baie hoog | ||||
Gini (2017) | 45,9[4](20ste) – hoog | ||||
Geldeenheid | Singapoer-dollar (S$) (SGD )
| ||||
Tydsone - Somertyd |
SST (UTC+8) nie toegepas nie (UTC+8) | ||||
Internet-TLD | .sg, .新加坡, .சிங்கப்பூர் | ||||
Skakelkode | +65 |
Singapoer (Chinees: 新加坡, pinyin: Xīnjiāpō; Engels: Singapore, [ˈsɪŋɡəpɔːr], ; Maleis: Singapura; Tamil: சிங்கப்பூர், Ciṅkappūr), amptelik die Republiek Singapoer (Chinees: 新加坡共和国, pinyin: Xīnjiāpō Gònghéguó; Engels: Republic of Singapore; Maleis: Republik Singapura; Tamil: சிங்கப்பூர் குடியரசு, Ciṅkappūr Kuṭiyaracu), is die kleinste en digbevolkste land in Suidoos-Asië met 'n oppervlakte van 719 vierkante kilometer en 'n bevolking van 6 miljoen in 2024.[4] Singapoer is 'n eiland- en stadstaat wat behalwe vir die hoofeiland Singapoer uit 63 kleiner eilande bestaan. Met sy strategiese ligging het Singapoer reeds vir die Britte as 'n belangrike seehawe gedien waarvandaan hulle die Straat van Malakka kon oorheers.
Toe Singapoer-eiland in 1819 danksy sir Thomas Stamford Raffles onder Britse bewind gekom het, het sy bevolking slegs 150 mense beloop. Nogtans was Singapura (letterlik "Die Leeustad") reeds in die 14de eeu 'n beduidende nedersetting wat as gevolg van die oorloë tussen die koninkryke Majapahit (Java, Indonesië) en Siam (die huidige Thailand) verniel is.
Die moderne Singapoer het volgens 'n plan ontstaan wat deur sir Thomas Stamford Raffles persoonlik ontwerp is. Die stad het tot by die jaar 1959 'n Britse besitting gebly en daarna volgens 'n ooreenkoms 'n selfregerende stad gevorm. Singapoer het in 1963 by die Federasie Maleisië aangesluit, maar etniese en ander geskille het tot die afskeiding van Maleisië gelei, sodat Singapoer in 1965 'n onafhanklike republiek geword het.
Die stad word vandag as een van die merkwaardigste ekonomiese en industriële suksesse beskou.[7] Singapoer se ekonomie, wat naas die nywerheidsektor op sy seehawe en vryehandel steun, was steeds op die wêreldmark gemik. Dit is 'n moderne stad met wolkekrabbers in sy sentrum en die digbevolkste land in Suidoos-Asië, wat met sy besige seehawe tot die logistieke en handelsentrum van die streek ontwikkel het.
Die fenomenale ekonomiese groei van Singapoer was steeds aan die outoritêre bewind van die People's Action Party (PAP) gekoppel wat volgens sy beleid van 'n sosialistiese markekonomie 'n moderne welvaartstaat geskep het. Maar as gevolg van Singapoer se verkiesingswette is die parlement al dekades lank deur die People's Action Party oorheers en het ook in die verkiesing van 6 Mei 2006 weer 'n oorweldigende meerderheid van 82 setels in die parlement behaal, teenoor slegs een setel elk vir die twee opposisiepartye Workers' Party en Singapore Democratic Alliance.[8]
Singapoer se strafwette, waarvolgens die doodstraf onder meer vir die onwettige besit van bepaalde hoeveelhede dwelmmiddels outomaties opgelê word, word veral deur Westerse regerings en organisasies gekritiseer. In verhouding tot sy bevolking is in Singapoer sedert 1991 die hoogste aantal teregstellings aangeteken.[9]
Die inwoners van Singapoer is 'n mengelmoes van verskillende etniese groepe, alhoewel etniese Han-Chinese meer as driekwart van die totale bevolking verteenwoordig. Ander belangrike groepe sluit Maleiers, Indiërs, Pakistani's en Sri Lankane in. Meer as dertig persent van die bevolking is Boeddhiste, terwyl Christene 19 persent, Moslems 15 persent, Taoïste sowat nege en Hindoes vyf persent van die bevolking verteenwoordig.[4]
Singapoer is naas die Republiek China op Taiwan een van twee gebiede buite die Chinese stamland wat in politieke opsig deur Han-Chinese oorheers word.[10]