Sint-Laurensrivier | |
---|---|
Die Sint-Laurensrivier naby Saint-Germain, Québec | |
Kaart van die Groot Mere en Sint-Laurens se waterskeiding. | |
Oorsprong | Groot Mere |
Monding | Golf van Sint-Laurens, Kanada Atlantiese Oseaan |
Stroomgebied | Kanada, Verenigde State |
Lengte | 1 197 km (744 myl) |
Oorspronghoogte | 74,7 m (245 vt) |
Mondinghoogte | 0 m (0 vt) |
Gemiddelde afloop | 16 800 m³/s (590 000 vt³/s)[1] |
Stroomgebiedopp. | 1 344 200 km² (519 000 myl²)[2] |
Kaart van die Sint-Laurensrivierbekken in Noord-Amerika.
|
Die Sint-Laurensrivier (Engels: Saint Lawrence River, Frans: Fleuve Saint-Laurent, Mohawk: Kaniatarowanenneh of "Groot Waterweg", Tuscarora: Kahnawáʼkye[3]) is 'n groot rivier in die gematigde klimaatsone van Noord-Amerika wat die Groot Mere langs die Amerikaans-Kanadese grens met die Atlantiese Oseaan verbind. Saam met hierdie mere vorm die Sint-Laurens 'n hidrografiese stelsel wat oor 'n afstand van 3 058 km na die binneland van Noord-Amerika strek.
Die rivier vloei vanuit sy oorsprong, die Ontariomeer naby Kingston, in noordoostelike rigting deur die Kanadese provinsie Quebec, verby die metropole Montréal en Quebecstad, om naby Sept-Îles in die Golf van Sint-Laurens en die Noord-Atlantiese Oseaan uit te mond. Die rivierloop maak deel uit van die grens tussen die Amerikaanse deelstaat New York en die Kanadese provinsie Ontario. Die Sint-Laurensrivier is na die Rooms-Katolieke heilige Sint Laurentius genoem, 'n boorling van Osca in Hispania (tans Huesca in Spanje) wat op 10 Augustus 258 as Christelike diaken die martelaardood in Rome gesterf het.
Die Kanadese geskiedkundige Donald Creighton (1902−1979) en ander het daarop gewys dat die Sint-Laurens, wat met sy oos-westelike loop 'n uitsondering vorm in die geografie van die Noord-Amerikaanse vasteland met sy affiniteit vir noord-suidelike rivierstelsels en bergreekse, 'n natuurlike basis gevorm het waarop die latere Kanadese nasie kon ontstaan. Met die bou van die Sint-Laurens-waterweg is groot dele van Kanada en die Verenigde State met Wes-Europa en die res van die wêreld verbind.[4]