Stonehenge, Avebury en bybehorende terreine* | |
---|---|
Unesco-wêrelderfenisterrein | |
Stonehenge in 2007. | |
Koördinate: 51°10′43.84″N 1°49′34.28″W / 51.1788444°N 1.8261889°W | |
Lande | Verenigde Koninkryk |
Tipe | Kultureel |
Kriteria | i, ii, iii |
Verwysings | 373 |
Streek† | Europa |
Inskripsiegeskiedenis | |
Inskripsie | 1986 (10de Sessie) |
* Naam soos dit in die Wêrelderfenislys verskyn. † Streek soos deur Unesco geklassifiseer. |
Stonehenge is ’n prehistoriese monument in Wiltshire, Engeland, sowat 13 km noord van Salisbury. Dit is die ruïnes van ’n kring regopstaande klippe (menhirs) in ’n kompleks van monumente uit die Nuwe Steentydperk en Bronstydperk wat verskeie grafheuwels insluit.[1]
Argeoloë glo dit is tussen omstreeks 3000 en 2000 v.C. opgerig. Volgens radiokoolstofdatering in 2008 kon die eerste klippe tussen 2400 en 2200 v.C. opgerig gewees het,[2] terwyl nog ’n teorie bestaan dat blouklippe reeds in omstreeks 3000 v.C. opgerig is.[3][4][5]
Stonehenge is een van die beroemdste prehistoriese monumente ter wêreld. Die omringende ronde aardwal en sloot, wat die eerste boufase van die monument was, word gedateer op omstreeks 3100 v.C. Stonehenge, Avebury en die omgewing is in 1986 by Unesco se lys Wêrelderfenisgebiede gevoeg. Dit word deur die Britse regering beskerm en behoort aan die Kroon. Die omliggende terrein behoort aan die National Trust.[6][7]
Argeologiese bewyse is in 2008 gevind wat daarop dui dat Stonehenge van sy ontstaan af ’n begraafplaas kon gewees het.[8] Die datering van veraste oorblyfsels wat op die terrein gevind is, dui daarop dat dit menslike bene kan bevat van reeds omstreeks 3000 v.C., toe die sloot en wal geskep is. Dit is minstens 500 jaar lank vir dié doel gebruik.[9]
Die naam Stonehenge beteken waarskynlik "hangende klippe".[10]
{{cite journal}}
: AS1-onderhoud: gebruik authors-parameter (link)