Tadjwid (Arabies: تجويد tajwīd, "voordrag") is in verband met die voorlees van die Koran 'n stel reëls vir die korrekte uitspraak van al die letters en die toepassing van verskeie tradisionele voordragmetodes.
Die term is afgelei van die stam wat beteken "versterking" of "om iets uitstekend te maak". Tegnies beteken dit om elke letter sy regmatige plek in die voordrag van die Koran te gee.
In Islam is tadjwid 'n wetenskap wat 'n mens leer om die Koran se woorde soos die profeet Mohammed uit te spreek. Tadjwid as 'n wetenskap het begin toe die Islamitiese staat in die derde eeu van die hidjra uitgebrei en foute ingesluip het omdat soveel nie-Arabiere hulle tot die Islam bekeer het. Die geleerdes het dus die voordrag- en intonasiereëls begin neerskryf. Na berig word, was die eerste persoon wat die wetenskap van tadjwid in 'n boek opgeneem het, imam Abu 'Ubaid al-Qāsim bin Salām (774-838 n.C.) in die derde eeu van die hidjra.[1]