Gebruik | Nasionale vlag en Staatsvaandel |
---|---|
Verhouding | 1:2 |
Goedgekeur | 12 Junie 1902[1] |
Ontwerp | ’n Blou Britse vaandel en vier rooi sterre van die Suiderkruis op die wapperkant met ’n wit fraiing. |
Ontwerp deur | Albert Hastings Markham |
Gebruik | Vlootvaandel |
Verhouding | 1:2 |
Goedgekeur | 1968 |
Ontwerp | ’n Wit Britse vaandel en vier rooi sterre van die Suiderkruis op die wapperkant. |
Bynaam | Handelsvlag |
Gebruik | Burgerlike vaandel |
Verhouding | 1:2 |
Ontwerp | ’n Rooi Britse vaandel en vier wit sterre van die Suiderkruis op die wapperkant. |
Die nasionale vlag van Nieu-Seeland is in 1869 ontwerp en amptelik op 12 Junie 1902 aanvaar.[2] Die vlag vertoon ’n Blou Britse vaandel met vier vyfpuntige rooi sterre met wit fraiings wat die Suiderkruis voorstel.[3]
Nieu-Seeland se eerste vlag, die vlag van die Verenigde Stamme van Nieu-Seeland, is aanvaar voordat Nieu-Seeland ’n Britse kolonie geword het. Dit is gekies deur ’n vergadering van Māori-hoofmanne in 1834 en het uit ’n Kruis van Sint Joris met ’n ander kruis in die skildhoek met vier sterre op ’n blou veld bestaan. Met die stigting van die kolonie in 1841 het die gebruik van Britse vaandels begin. Die huidige vlag was ontwerp en aanvaar vir beperkte gebruik in 1869 en het in 1902 die amptelike vlag geword. Dit is die Britse Blou vaandel, waarin ’n gestileerde voorstelling van die Suiderkruis is wat die vier grootste sterre uitbeeld. Elke ster verskil effens van die ander in grootte. Die Union Jack in die skildhoek herinner aan Nieu-Seeland se koloniale bande met die Verenigde Koninkryk en sy lidmaatskap in die Britse Statebond.[3]
Die verhouding van die vlag is 1:2 en die kleure is rooi (Pantone 186C), blou (Pantone 280C), en wit.[3] Die verhouding en kleure is identies aan die Union Jack.