Joroeba | |
---|---|
Joroeba-tromspelers in Ojumo Oro, Kwara-staat, Nigerië, April 2004 | |
Totale bevolking: | ca. 43 miljoen |
Belangrike bevolkings in: | Nigerië 40 miljoen[1] Benin 2,2 miljoen[2] |
Taal: | Joroeba • Engels • Frans |
Geloofsoortuiging: | Christendom (55%) • Islam (35%) • Joroeba-godsdiens (10%) |
Verwante etniese groepe: | Afemai, Arogbo & Apoi Ijaw, Bariba, Bini, Ebira, Esan, Ewe, Fon, Igala, Itsekiri, Nupe |
Die Joroeba (Joroeba: Àwọn Ọmọ Yorùbá, letterlik: "Joroeba-volk") is 'n etniese groep inheems aan Suidwes-Nigerië, Benin en Togo wat suidwes van die Nigerrivier leef. Die etniese groep omvat sowat 43 miljoen mense en hulle praat Joroeba as moedertaal en Engels of Frans as tweede taal. Dit is saam met die Hausa en die Igbo een van die grootste etniese groepe in beide Nigerië en Wes-Afrika.[8]
Die kultuur van die Joroeba is kenmerkend vir die vroeë stigting van stede. Reeds in die Middeleeue het die grootste stede 'n bevolking van omtrent 100 000 gehad. Die nedersettingsgebied vorm nog vandag die digbevolkte kerngebied van Nigerië, waar hulle 21% van dié land se bevolking uitmaak. 22 van Nigerië se 50 grootste stede is daar geleë.
Die Joroeba-diaspora bestaan uit twee hoofgroeperings, een van hulle sluit relatief onlangse immigrante in, waarvan die meeste na groot ekonomiese veranderinge in die 1970's in die Verenigde State en die Verenigde Koninkryk gevestig het; die ander is 'n veel ouer bevolking wat terug dateer tot die Atlantiese slawehandel. Hierdie ouer gemeenskap het takke in lande soos Kuba, St. Lucia, Brasilië, Grenada en Trinidad en Tobago.