’n Ontwikkelde land of geïndustrialiseerde land is ’n soewereine staat met ’n hoogs ontwikkelde ekonomie en gevorderde tegnologiese infrastruktuur in vergelyking met ander lande. Die algemeenste kriteria om die graad van ekonomiese ontwikkeling te bepaal is die bruto binnelandse produk (BBP), bruto nasionale produk (BNP), per capita-inkomste, vlak van industrialisasie, mate van wydverspreide infrastruktuur en algemene lewenstandaard.[2] Dit is debatteerbaar watter kriteria gebruik moet word en watter lande as ontwikkel geklassifiseer kan word.
Ontwikkelde lande het ’n post-industriële ekonomie, wat beteken die dienssektor verskaf meer rykdom as die nywerheidsektor. Daarteenoor is ontwikkelende lande besig om te industrialiseer of hoofsaaklik op landbou aangewese. In 2015 het gevorderde ekonomieë 60,8% uitgemaak van die wêreldwye BBP gebaseer op nominale waardes en 42,9% van die wêreldwye BBP gebaseer op koopkragpariteit (KKP), volgens die Internasionale Monetêre Fonds.[3] In 2015 was die 10 grootste gevorderde ekonomieë volgens BBP in beide nominale en KKP-terme Australië, Kanada, Frankryk, Duitsland, Italië, Japan, Suid-Korea, Spanje, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde Koninkryk.[4]